Tag Archives: Carr

Narratiewe Realisme: David Carr se geskiedfilosofie as uitdaging aan die postmodernisme

Titel: David Carr se geskiedfilosofie as uitdaging aan die postmodernisme

Skrywer: Jan Adriaan Schlebusch
Ph.D. (Groningen, NL)
schlebuschadrian@gmail.com

Ensovoort, jaargang 41 (2020), nommer 9: 2

Abstract

The striving towards objectivity that characterized modern historiography up until the 1970s, lost adherence in academia in light of damning criticism by influential philosophers like Jürgen Habermas. Postmodern approaches to historiography like that of philosophers of history Hayden White and Louis Mink were developed during this time in reaction to positivism. These postmodern approaches therefore purposefully strove to avoid the aim of historiographical objectivity and were characterized by a constructivist view of historiographical literature, wherein historical narratives construct an independent reality without any relation to historical truth or even historical reality outside of the text itself. By the end of the twentieth century the American philosopher of history David Carr emerged as one of the most renowned critics of postmodern historiography. While Carr maintains the emphasis on the narrative nature of historiography, his phenomenological approach represents a narrative realism in contrast to the narrative anti-realism characteristic of postmodern historiography. Carr proposes narrative as inherent to all human interaction with reality rather than something separated from or imposed upon reality. Narrative therefore provides the framework that supplies sense and meaning to human experience. In this regard Carr’s narrative realism offers a sensible alternative to postmodern narrativism — one that 1) recognizes the past as a given reality that exists outside of the human mind; 2) emphasizes the narrative character of historiography as reflecting human interaction with reality as such, rather than as an escape therefrom; and 3) acknowledges the historiographer’s right and ability to scientifically interact with this reality.

Keywords: Carr, David; Historiography; Narrative; Mink, Louis; Postmodernism; White, Hayden.

Opsomming

Die strewe na objektiwiteit wat die moderne historiografie tot en met die 1970’s gekenmerk het, het na aanleiding van verdoemende kritiek teen hierdie positivistiese benadering deur invloedryke filosowe soos Jürgen Habermas, aanhang in akademiese kringe verloor. Postmoderne benaderings tot die historiografie soos dié van die geskiedfilosowe Hayden White en Louis Mink, het dan ook gedurende die tyd opgang gemaak as reaksie teen die positivisme. Hierdie postmoderne benaderings het daarom doelbewus gepoog om die strewe na historiografiese objektiwiteit te vermy en is gekenmerk deur ‘n konstruktiwistiese beskouing van historiese literatuur waar historiese narratiewe ‘n eie realiteit konstrueer sonder enige waarheidsaanspraak op of selfs verband tot die historiese werklikhede buite die teks self. Teen die einde van die twintigste eeu tree die Amerikaanse geskiedfilosoof David Carr egter na vore as een van die vernaamste kritici van die postmoderne historiografie. Terwyl Carr die klem op die narratiewe aard van die historiografie behou, verteenwoordig sy fenomenologiese benadering ‘n narratiewe realisme in teenstelling met die narratiewe anti-realisme kenmerkend van die postmoderne historiografie. Carr stel narratief as inherent aan alle menslike interaksie met die werklikheid, eerder as iets verwyder van die werklikheid of iets wat daarop opgelê word, voor. Narratief vorm dus die raamwerk wat sin en betekenis aan menslike ervaring verleen. In hierdie opsig bied Carr se narratiewe realisme ‘n nugter alternatief tot postmoderne narratiwisme — een wat 1) die verlede as gegewe werklikheid buite die menslike gedagtewêreld self erken; 2) die narratiewe karakter van die historiografie beklemtoon as weerspieëling van menslike interaksie met die werklikheid as sodanig eerder as ‘n ontwyking daarvan; en daarom ook 3) die historiograaf se reg of vermoë erken om wetenskaplik met hierdie werklikheid om te gaan.

Kernwoorde: Carr, David; Historiografie; Narratief; Mink, Louis; Postmodernisme; White, Hayden.

1. Inleiding

Sedert die tweede helfte van die twintigste eeu is narratiewe benaderings tot die historiografie ontwikkel grotendeels as gevolg van toenemende kritiek teen voorafgaande benaderings wat gekenmerk is deur die uitgangspunt dat die verlede in oorsaaklike terme beskryf behoort te word. Skeptisisme aangaande hierdie wetmatige benadering tot die geskiedenis wat die negentiende en twintigste-eeuse positivisme gekenmerk het, was een van die vernaamste oorsake vir die opkoms van narratiewe benaderings in die historiografie (Lorenz 1998:234-235). Die positivisme — aanvanklik die oorheersende beskouing in die moderne historiografie — het benadruk dat die historiografie alleenlik kan aanspraak maak op wetenskaplikheid as dit sig besig hou met die daarstelling van streng wetmatige paradigmas ter verduideliking van historiese oorsake en gevolge (Carr 1991:11). Die strewe na objektiewe kennis — kenmerkend van die positivisme as benadering tot die geesteswetenskappe — was egter grotendeels gedoem na die heftige kritiek van invoeldryke filosowe soos Jürgen Habermas in die 1960’s (Edgar 2015:188).

Die opkoms van narratiewe benaderings tot kennis van die verlede is daarom gekenmerk deur ‘n doelbewuste poging om hierdie strewe na objektiewe feitekennis te vermy, deur te beklemtoon dat die narratiewe aard van historiografiese werke op sigself meer gemeenskaplik het met poësie en kuns as met die eksakte wetenskappe. Die bydrae van die Amerikaanse geskiedfilosoof Hayden White (1928-2018), word wyd erken betreffende die baanbrekerswerk wat dit in hierdie opsig verrig het (Ankersmit 2009:199-201; Williams 2015:100). White se werk word gesien as grondliggend aan die fokusverandering van die vakgebied geskiedenis, met name die daarstelling van die sogenaamde “linguistic turn”: dit is die radikale bevraagtekening van die bestaan van objektiewe feitekennis oor die geskiedenis deur die beklemtoning dat taal of teks self geskiedenis skep (Timcke 2019:4-5). In sy mees invloedryke werk, Metahistory: Historical Imagination in 19th-century Europe (aanvanklik gepubliseer in 1973), beskryf White die historiografie as gedryf en gevorm deur bepaalde trope, dit is bepaalde retoriese strategieë waarmee die historiograaf sy gehoor wil betrek (White 2014:x, xxx). Vir White is geskiedskrywing eerder ‘n literêre of poëtiese as wetenskaplike daad (Ibid., xxxi-xxxxii). White beweer dat die identifisering van historiese oorsake en gevolge sy oorsprong alleen in die menslike verbeelding, en nie in die geskiedenis self kan hê nie (White 1981:23). Met ander woorde, historiografiese werk en die historiese narratiewe wat daaruit voortvloei verwys nie op sigself na ‘n werklikheid buite die teks nie, maar is fiksionele en kunsmatige konstruksies van die outeur (Paul 2011:10).

Volgens hierdie narratiewe konstruktivisme oftewel narratiewe anti-realisme, ontstaan die narratief dus nie uit die historiese data nie, maar word daarop geïmponeer (Carrard 2015:187). Hierdie narratiewe anti-realisme is egter teen die einde van die twintigste eeu en aan die begin van die een-en-twintigste eeu uitgedaag deur ‘n alternatiewe narratiewe realisme, waarvan die vernaamste verteenwoordiger die eietydse Amerikaanse geskiedfilosoof, David Carr is (Ibid.). In hierdie artikel gaan daar ondersoek ingestel word na Carr se narratiewe realisme as alternatief vir die postmoderne anti-realisme van White en Mink. Daarvolgens word die meriete van Carr se narratiewe realisme as teenvoeter vir postmoderne konstruktivisme beoordeel. Verder word ook ondersoek ingestel na die sosiopolitieke implikasies van hierdie narratiewe realisme.

2. Postmoderne narrativisme en die historiografie

White se benadering verteenwoordig die grondlegging van die postmoderne inslag tot die historiografie. Hy beweer dat daar ‘n onoorbrugbare kloof tussen die historiese werklikheid en die historiografiese weergawe van hierdie werklikheid deur middel van historiese narratiewe bestaan. Daarom beskryf hy historiese narratiewe as “verbal fictions, the contents of which are more invented than found and the forms of which have more in common with their counterparts in literature than they have with those in the sciences” (White 1978:82). In hierdie benadering word die geskiedenis gekonstrueer of geskep in die gedagtes van die historikus op dieselfde wyse as wat ‘n fiksionele draaiboek in die gedagtes van ‘n filmmaker geskep word. Dit hou dus geen direkte verband met die werklikheid nie. Die postmoderne geskiedfilosoof Louis Mink (1921-1983) argumenteer dan ook dat “narrative qualities are transferred from art to life [as] … a product of individual imagination” (Mink 1970:557-8). In aansluiting by White beweer Mink dat die narratiewe vorm en struktuur waarin die geskiedenis weergegee word fundamenteel gekenmerk word deur dieselfde eienskappe as fiktiewe verhale, wat die produksie van beide kategories dieselfde oefening maak (Mink 1978:145). Daardeur word historiografie onderskei en selfs geskei van die feitlike werklikheid of realiteit van lewe wat byvoorbeeld deur die natuurwetenskap ondersoek word. Historiese narratiewe verteenwoordig dus ‘n ontwyking van ‘n chaotiese werklikheid wat ten doel het om te voldoen aan die verteller se behoefte aan narratiewe samehang. Dit kom daarom neer op ‘n konstruktiwistiese beskouing van historiese literatuur waar historiese narratiewe ‘n eie realiteit konstrueer sonder enige waarheidsaanspraak op of selfs verband met die historiese realiteite buite die teks self.

3. David Carr se fenomenologies-narratiewe benadering tot die historiografie

Die Amerikaanse fenomenoloog en geskiedfilosoof, David Carr (1940-) het reeds laat in die twintigste eeu na vore getree as een van die vernaamste kritici van die skeptisisme wat die postmoderne benaderings van White en Mink kenmerk (Carr 1991:12-13). Hy beweer dat die skeptisisme aangaande die historiografie te make het met die epistemologiese afstand wat daar bestaan tussen die voorwerp van ondersoek en die ondersoeker: “The events of the past cannot be seen, heard or felt, and any assertions we make about them must be grounded in the most indirect means” (Carr 2008:123). Hy beweer verder dat die narratiewe vorm inherent aan geskiedskrywing self bygedra het tot die opkoms van hierdie skeptisisme (ibid.).

3.1 Carr en narratief

Carr waardeer en behou egter die fokus op die narratiewe aard van geskiedskrywing en met name ook die feit dat die historikus self deel vorm van die historiografiese proses (Carr 1991:13). Nogtans daag hy die postmoderne redusering van laasgenoemde tot fiksie uit deur te beweer dat die struktuur van narratief inherent is aan alle menslike ervaring as sodanig. Carr bevorder sy benadering as ‘n “way of overcoming the weaknesses and solving the problems of a dual focus on representation and memory” (Carr 2014:2). Hierdie dualisme waarna Carr verwys is juis die onoorbrugbare kloof tussen die werklikheid en die narratiewe voorstelling daarvan wat die postmoderne historiografie kenmerk. In navolging van die Duitste fenomenoloog Edmund Husserl (1859-1938), staan Carr daarenteen ‘n retensionele verstaan van die geskiedenis voor, waar narratief die raamwerk vorm wat sin en koherensie verskaf aan menslike ervaring en optrede in die hede in die lig van die verlede en met die oog op die toekoms (Ibid., 67-68). Die fenomenologie in die tradisie van Husserl bepaal dit met die studie van menslike ervaring van die werklikheid eerder as die wese van die werklikheid self (Laverty 2003:22). Carr onderskei daarom ook Husserl se fenomenologiese benadering as ‘n bewustelik nie-ontologiese wyse waarmee die realiteit benader word (Carr 1974:38-39). Met ander woorde, in die fenomenologie word nie die wese of aard van realiteit self nie, maar die menslike ervaring van hierdie realiteit bestudeer. In terme van menslike ervaring, vorm narratief dus die struktuur wat sin en betekenis gee aan hierdie ervaring (Carr 2008:124). Daar is ‘n bepaalde historisiteit inherent aan menslike bestaan in die hede, wat alleen sin maak as keerpunt tussen die verlede en die toekoms (Carr 2014:134). Carr (Ibid., 172) verduidelik:

Thus the Phenomenological contribution to the philosophy of history … is neither a speculative account of the overall course of history … nor merely an epistemology of historical knowledge, since it traces such knowledge to the underlying historicity of experience.

Hierdie “experience” wat sentraal staan tot Carr se retensionele verstaan van menslike handeling luidens ‘n narratief kan verduidelik word aan die hand van ‘n sportwedstryd as voorbeeld. Die praktiese waarde van ‘n sportwedstryd as voorbeeld lê daarin dat dit op sigself ‘n tipe afgeslote mikrokosmos met ‘n baie duidelike begin en einde vorm, en waar die “geskiedenis” van die wedstryd tot op enige gegewe moment (die hede) en die toekomstige einddoel deurlopend ‘n oorheersende rol in die gedagtes van die deelnemers speel. Tydens die spel sal strategieë aangewend en aangepas word na aanleiding van die ervaring van die verlede met die doel om die toekoms, d.i. die uitslag, te beïnvloed. Tydens ‘n tenniswedstryd sal ‘n speler byvoorbeeld sy strategieë aanpas om ‘n opponent se swakpunte uit te buit. Kennis van hierdie swakpunte is dan afgelei uit die verlede, d.i. die ervaring van vorige punte gespeel, en is duidelik gemik op die toekomstige doel om die punt, pot, stel en uiteindelik die wedstryd te beklink. Strategieë op ‘n rugbyveld vertoon dieselfde narratiewe karaktertrekke. As ervaring (uit die verlede) leer dat die opponente se heelagter wankelrig onder die hoë bal is, sal die losskakel sy spel in die hede aanpas deur meer strategiese skoppe in sy spel in te sluit, wat ook natuurlik strategies daarop gemik is om die wedstryd in die toekoms te beklink.

Carr argumenteer dus dat alle menslike ervaring van die werklikheid noodwendig so ‘n narratiewe karakter het, wat gekenmerk word deur ‘n wisselwerking tussen retensie van die verlede en antisipasie van die toekoms (Carr 2014:108-10). Hy beweer dat geskiedfilosowe soos White en Mink wat historiese narratiewe as ‘n vorm van fiksie beskou het, nie die verduidelikende funksie van narratief as weerspieëling van die werklikheid in ag geneem het nie (Ibid., 220). Vir Carr (2008:124-125) word narratief dus nie van buite af op die werklikheid geprojekteer nie, maar is dit eerder inherent aan die werklikheid van menslike ervaring:

[H]uman events and actions derive their sense from their relation to the past and future, i.e., from their place in a temporal configuration in which they follow from something and lead up to something else. The idea of coherence in human affairs derives from the very way we experience and exist in time, not from the imposition of on it of alien or artificial categories.

Carr (2014:204-5) bekritiseer dus die postmoderne veronderstellings dat 1) die realiteit en narratief wedersyds uitsluitend is en dat 2) kennis en verbeelding teenoor mekaar staan. Hierteenoor beklemtoon hy dat 1) die menslike realiteit noodwendig manifesteer in ‘n narratiewe vorm en dat 2) kennis nie noodwendig die passiewe ontvangs van feite is nie, maar op sigself ‘n menslike aktiwiteit is (Ibid., 206-8). Teenoor die postmodernisme se skeptisisme aangaande die historiese werklikheid argumenteer hy dat “the very reality of history — res gestae, which are human acts and experiences, plans and projects — already has the narrative form in which historical writing is largely cast” (Carr 2008:124). Menslike ervaring en menslike deelname aan die realiteit “envisage the future, consult the past and arrange the present as the passage between the two” (Carr 2014:110). Carr se beskouing van die historiografie word dus gekenmerk deur ‘n beklemtoning van die praktiese aard daarvan as inherent aan die menslike ervaringswêreld.

3.2 Carr se beskouing van die historiografie as sosiopolitieke daad

Carr se beklemtoning van die praktiese funksie van die verlede vir die narratiewe karakter van menslike bestaan het natuurlik implikasies op beide die indiwiduele en kollektiewe vlak. Die wyse waarop die mens bestaan as gemeenskaplike wese is daarom ter sprake:

For individuals who stand in this relation of membership, experiences, actions, opinions, and feelings are not ‘mine’ but ‘ours’. Where the communal ‘we’ is operative, whether it be family, ethnic, political, religious, or even the universal-human level (as in, ‘we’ landed on the moon in 1969), social time can be said to be structured along the same narrative lines as individual time … As memory is to the individual, so history is to the community. As the individual implicitly or explicitly composes a life story that constitutes his or her identity, so the community composes its own biography in the history of it writes for itself. (Carr 2008:130).

Dít wat die geheue van die verlede in die praktyk vir die indiwidu doen, doen die historiografie in die praktyk vir die gemeenskap. Geskiedfilosofieë moet dus ook nie bloot verstaan word as “metaphysical claims about the reality of the historical process” nie, “but as a kind of discourse more appropriately compared with the political-rhetorical kind of story-telling” (Carr 2014:121). Hy gebruik Hegel as voorbeeld van iemand wat met sy dialektiese geskiedfilosofie nie ten doel gehad het om bloot teoretiese of metafisiese bewerings oor die oorsprong en lot van die wêreld te maak nie, maar om ‘n oortuigende retoriese narratief daar te stel om hierdie wêreld in ‘n bepaalde rigting te help aanbeweeg (Ibid.,, 133). Dit beteken egter nie dat Hegel se geskiedfilosofie verstaan behoort te word as voorskriftelik eerder as beskrywend nie, maar veel eerder as sy eietydse narratiewe herbeskrywing van die verlede, met een oog op die toekoms (Ibid.).

Gemeenskappe het dus ‘n narratiewe bestaan in die sin dat dit deur middel van ‘n narratiewe blik op die verlede (i.e. waar kom ons vandaan?) en met ‘n toekomsvisie (i.e. waarheen is ons op pad?) tot stand gebring word (Carr 2014:230). Dit is egter nie net bloot die ontstaan van gemeenskappe wat by wyse van hierdie narratief tot stand kom nie, maar ook die deurlopende voortbestaan van die gemeenskap is daarvan afhanklik. Carr (2008:130) verduidelik:

… the community holds on to its past for the practical purpose of organizing and orientating itself in time, and of maintaining its identity in the face of [threats] … It is here that the past is kept alive in traditions, legends, monuments, public buildings and folk music and art. No doubt popular history belongs here too, and even the officially chosen history books of the public schools.

Sosiale en politieke gemeenskappe maak dus deurlopend gebruik van en appèl op historiese narratiewe om hul voortbestaan in die hede en die toekoms te verseker. Met ‘n beroep op Carr, wys die Nederlandse historikus Herman Paul dan ook met behulp van ‘n onlangse gevallestudie uit hoe die historiografie wat kenmerkend was van behoudende godsdienstige groepe in Nederland gedurende die negentiende eeu so ‘n praktiese en sosiopolitieke doel gehad het (Paul 2016:11). Te midde van die radikale godsdienstige en sosiopolitieke veranderinge wat die negentiende eeu gekenmerk het, het behoudende Protestantse en Katolieke gemeenskappe hulself binne die raamwerk van bepaalde historiese narratiewe (her)posisioneer (ibid., 13). Die anti-verligtingsgesinde en Christelike geskiedfilosofieë wat die raamwerk vir hierdie posisionering moontlik gemaak het, moet dan ook nie bloot as epistemiese of ontologiese reaksies teen die liberalisme van die Verligting gesien word nie, maar as ‘n middel tot sosiopolitieke en sosioreligieuse herbevestiging van godsdienstige gemeenskappe se bestaansreg en rol in die samelewing te midde van ‘n eksistensiële krisis (Ibid., 30).

Die alombekende verkiesingstrategieë kenmerkend van die huidige Amerikaanse politieke landskap kan ook hier as waardevolle voorbeeld dien. Bloot die bekende slagspreuke van Amerikaanse presidensiële kandidate weerspieël iets van die historiese narratiewe posisionering kenmerkend van die betrokke politieke beweging. Tydens sy tweede en laaste suksesvolle veldtog vir die amp in 2012, was die voormalige president Barack Obama se keuse vir amptelike leuse “forward”, ‘n eenwoordleuse wat deur die politieke kommentator E.J. Dionne beskryf word as “the very embodiment of the progressive tradition” (Dionne 2012:273). Sy opvolger, Donald Trump, het in 2016 daarenteen gekies vir die slagspreuk “Make America Great Again”, wat deur die politieke wetenskaplike Matthew McManus (2019:viii) beskryf word as een wat van die verlede “an object of appeal and desire” maak.

Hierdie slagspreuke verteenwoordig ‘n bepaalde blik op en omgang met die geskiedenis wat terselftertyd ‘n bepaalde retoriese funksie het, met name jou te rig op ‘n bepaalde demografiese groepering binne die Amerikaanse samelewing, met die (toekomstige) doel om die verkiesing te wen. Soos Carr (2008:131) verduidelik

’Social memory’ … is always being appealed to and subtly manipulated, especially in the context of political rhetoric … The past is important because of how it affects the future. Is it a golden age from which we have fallen away? Then we must return to the values of our fathers. Is it merely the first steps toward a goal as yet unrealized? Then we must continue to move toward the future. In the political arena, the struggle is often for control of the past. But the past is prized for its significance for the future.

Die fenomenologies-narratiewe benadering tot die historiografie beklemtoon dus die retoriese funksie van die weergee van geskiedenis as strategie vir sosiopolitieke posisionering asook die bekragtiging van sosiopolitieke optrede.

4. Carr se narratiewe realisme as teenvoeter vir postmoderne anti-realisme

Carr se narratiewe benadering behels egter nie, soos by die postmodernisme, ‘n ex post facto regverdiging van sosiopolitieke posisies en aksies nie, maar beklemtoon dat narratief op sigself die singewende raamwerk vorm wat noodsaaklik is vir die ontwikkeling van sulke posisies en aksies. Carr se benadering is dus by uitstek ‘n vorm van narratiewe realisme, wat ‘n nugter uitdaging tot die konstruktiwistiese anti-realisme van White en Mink verteenwoordig. Een van die mees uitstaande swakpunte van die postmoderne benadering is die implikasie dat dit geen historiese gebeurtenis as inherent tragies al dan nie sien. Na aanleiding van kritiek teen White se narratiewe anti-realisme, naamlik dat dit byvoorbeeld net soveel meriete laat vir historiese narratiewe aangaande die holaucaust as positiewe of selfs komiese eerder as tragiese gebeurtenis, beweer White (1992:52) dat dit nie betaamlik is “to give up the effort to represent the Holocaust realistically”. Hierdie uitspraak is egter nie te rym met White se anti-realisme, onder andere sy idee dat “no historical event is intrinsically tragic … For in history what is tragic from one perspective is comic from another” (White 1978:84) nie en verteenwoordig in wese ‘n terugkeer na die modernistiese idee om die “soos dit werklik was” weer te gee (Byrskog 2000:20). Hierdie stelling verteenwoordig verder ‘n afwyking van sy sentrale tese, soos omvattend beskryf deur Herman Paul (2011:10):

[For] White ‘truth’ in a classic correspondence sense of the word is inapplicable to narratives … White almost invariably approached narrative from rhetorical, ideological and political angles, and almost never from an epistemological point of view.

Carr omseil ook epistemologiese en ontologiese vraagstukke, maar sy alternatief van narratiewe realisme bied wel ruimte vir die kritiese ontleding of beoordeling van bepaalde historiese narratiewe, juis omdat dit — anders as anti-realisme — narratiewe bind aan die werklikheid buite die teks en by uitstek die primêre historiese bronne (Schlebusch 2019:426). Vanweë die fenomenologiese inslag van Carr se benadering, sou sodanige narratiewe kritiek natuurlik altyd self vanuit ‘n mededingende narratief geskied, maar, as nugter alternatief tot die postmodernisme maak hierdie benadering ten minste ruimte vir die tipe gesprekke en debatte tussen partye met ‘n gedeelde uitgangspunt van die geskiedenis as bestaande werklikheid extra se.

‘n Verdere voordeel van die narratiewe realisme is dat dit ‘n nugter uitdaging bied aan die postmoderne literatuurteoretiese obsessie met magstrukture en die ontmaskering daarvan in tekste, ‘n benadering wat die Suid-Afrikaanse filosoof Johann Rossouw (2017:394) betreurenderwys maar tog akkuraat beskryf as een met “n bykans onaantasbare posisie … in die … Geesteswetenskappe”. Hiervolgens is teks — ook historiografiese tekste, veral omdat dit gesien word as die produk van die outeurverbeelding sonder enige korrelasie met ‘n eksterne werklikheid — altyd ‘n uitdrukking van ‘n bepaalde magstruktuur (Gabardi 2001:70). Mededingende narratiewe het daarom nie soseer te make met verskille betreffende hoe die geskiedenis benader en interpreteer word nie, maar eerder met mededingende magstrukture soos dit beslag vind in historiografiese tekste. In teenstelling hiermee laat Carr se benadering egter wel ruimte vir gesprekke en debatte oor die geskiedenis as onderwerp van studie self, sonder om vasgevang te word in ‘n onontwykbare paradigma van tekstuele geweld as dit by enige historiografiese verskille kom.

5. Gevolgtrekking

Carr se fenomenologies-narratiewe benadering hou rekening met die narratiwistiese beskouing van die historiografie wat sedert die 1970’s die akademiese omgang met die verlede kenmerk. Nogtans bied sy narratiewe realisme ‘n nugter alternatief vir die narratiewe konstruktiwisme of anti-realisme kenmerkend van die benaderings van Hayden White en Louis Mink. Deur narratief as inherent aan menslike interaksie met die realiteit eerder as ‘n ontwyking van hierdie realiteit te sien, skep dit die nodige ruimte vir gesprekke oor die geskiedenis as gegewe werklikheid, al is dit dan ook bloot wat die ervaring eerder as die wese daarvan betref. Sonder om te verval in die redusering van alle historiografiese pogings as deelname in ‘n magstryd, wys die narratiewe realisme van Carr egter ook tereg op die onontwykbare polities-retoriese implikasies van alle geskiedskrywing as menslike kultuurproduk of sosiopolitieke daad met gepaardgaande sosiopolitieke motiewe.

Wat die fenomenologie van Carr nie kan of wil doen nie, is om ontologiese vrae, i.e. “wat is die aard en wese van die geskiedenis?”, of epistemologiese vrae, i.e. “wat is die ware feite en ware betekenis van die geskiedenis?” te beantwoord. Dit sou sekerlik onbillik wees om die fenomenologie te bekritiseer omdat dit nie antwoorde verskaf op vrae wat dit bewustelik nie probeer aanspreek nie. Hierdie ontologiese en epistemologiese vraagstukke is egter blywend as ons ten doel sou hê om die skeptisisme aangaande die geskiedenis te wil oorbrug. Waar beide die positivisme as produk van die Verligting en die Christelike historiografie as voorloper daarvan en reaksie daarop hulself dus met rede besig hou met hierdie epistemologiese en ontologiese vraagstukke (Jayapalan 2002:69; Kuiper 1996:107), omseil die fenomenologiese benadering doelbewus hierdie belangrike vrae. Dit beklemtoon daarom ook nie, soos die twintigste-eeuse hermeneutiese benadering van Hans-Georg Gadamer (1900-2002), die noodsaak vir selfbeskouing en die bekendmaking van vooroordele of voorveronderstellings nie, omdat narratiewe in die fenomenologiese sin nie ’n bepaalde sosiopolitieke posisionering ex post facto regverdig nie, maar as sodanig dien as singewende raamwerk vir die ontstaan en ontwikkeling van sulke posisionerings (Laverty 2003:28; Carr 2014:110).

Nogtans laat die ervaringsblik op die geskiedenis ruimte vir debatte aangaande die verlede as gegewe werklikheid en roep dit ten minste die historiograaf op tot ‘n verantwoordelike omgang met die bronne in sy poging om sin te maak van die verlede, hede en toekoms. Daarom verteenwoordig die narratiewe realisme van David Carr ‘n ontsettend belangrike keerpunt in die ontwikkeling van die historiografie: een wat, in teenstelling met en in reaksie op die postmodernisme, 1) die verlede as gegewe werklikheid buite die menslike gedagtewêreld self erken; 2) die narratiewe karakter van die historiografie beklemtoon as weerspieëling van menslike interaksie met die werklikheid as sodanig eerder as ‘n ontwyking daarvan; en daarom ook 3) die historiograaf se reg of vermoë erken om wetenskaplik met hierdie werklikheid om te gaan.

Bibliografie

Ankersmit, F. 2009. Narrative and Interpretation. In Tucker (red.). 2009.

Byrskog, S. 2000. Story as History – History as Story. Tübingen: Mohr.

Canary, R.H. en Kozicki, H. 1978. The Writing of History. Madison, WI: University of Wisconsin Press.

Carr, D. 2014. Experience and History: Phenomenological Perspectives on the Historical World. New York: Oxford University Press.

-. 1974. Phenomenology and the Problem of History: A Study of Husserl’s Transcendental Philosophy. Evanston, IL: Northwestern University Press.

-. 2008. The Reality of History. In Rüsen (red.). 2008.

-. 1991. Time, Narrative and History. Bloomington, IN: Indiana University Press.

Carrard, P. 2015. History and Narrative: An Overview. Narrative Works: Issues, Investigations and Interventions 5(1), pp. 174-196.

Dionne, E.J. 2012. Our Divided Heart: The Battle for the American Idea in an Age of Discontent. New York: Bloomsbury.

Edgar, A. 2005. The Philosophy of Habermas. Slough, Buckinghamshire: Acumen.

Friedlander, S. 1992. (red.). Probing the Limits of Representation: Nazism and the “Final Solution”. Cambridge, MA: Harvard University Press.

Gabardi, W. 2001. Negotiating Postmodernism. Minneapolis, MN: University of Minnesota Press.

Jayapalan, N. 2002. Historiography. Delhi: Atlantic Publishers.

Kuiper, R. 1996. Uitzien na de zin. Inleiding tot een christelijke geschiedbeschouwing. Leiden: Groen & Zoon.

Laverty, S.M. 2003. Hermeneutic Phenomenology and Phenomenology: A Comparison of Historical and Methodological Considerations. International Journal of Qualitative Methods 2(3), pp. 21-35.

Lorenz, C. 1998. De constructie van het verleden – Een inleiding tot de theorie van de geschiedenis. Derde uitgawe. Amsterdam: Boom.

McManus, M. 2019. The Rise of Post-Modern Conservatism: Neoliberalism, Post-Modern Culture, and Reactionary Politics. Cham: Springer.

Mink, L.O. 1970. History and Fiction as Modes of Comprehension. New Literary History 1(3), pp. 541-558.

-. 1978. Narrative Form as a Cognitive Instrument. In Canary en Kozicki (reds.). 1978.

Mitchell, W.J.T (red.). 1981. On Narrative. Chicago: University of Chicago Press.

Paul, H. 2011. Hayden White: The Historical Imagination. Cambridge: Polity Press.

-. 2016. Plaatsbepaling in de tijd: Geschiedfilosofie in Nederland 1860-1940. Tijdschrift voor geschiedenis 129(1), pp. 11-31.

Rossouw, J. 2017. Mag, die Staat en die Kerk in Suid-Afrika. In Litnet Akademies 14(2), pp. 390-412.

Rüsen, J. (red.). 2008. Meaning and Representation in History. New York: Berghahn Books.

Schlebusch, J.A. 2019. Rassisme, Nasionalisme en die Gereformeerde tradisie: ‘n narratiewe benadering. Litnet Akademies 16(2), pp. 422-441.

Timcke, S. 2019. Foucault, White and the Linguistic Turn in Western Historiography. History and Action 6(1), pp. 1-12.

Tucker, A. (red.). 2009. Blackwell Companions to Philosophy: A Companion to the Philosophy and History of Historiography. Chichester: Blackwell.

White, H. (red.). 1992. Historical Emplotment and the Problem of Truth. In Friedlander (red.). 1992.

-. 2014. Metahistory: The Historical Imagination in Nineteenth-Century Europe. Tweede Uitgawe. Baltimore, MD: John Hopkins University Press.

-. 1978. Tropics of Discourse: Essays in Cultural Criticism. Baltimore, MD: John Hopkins University Press.

-. 1978. The historical text as literary artifact. In White (red.). 1978.

– 1981. The Value of Narrativity in the Representation of Reality. In Mitchell (red.). 1981.

Williams, R.C. 2015. The Historian’s Toolbox: A Student’s Guide to the Theory and Craft of History. Derde uitgawe. New York: Routledge.